Ons is die meisies wat goed maak- ons stort min trane oor die dood, want ons weet fyngemaalde bene maak die beste brood- vetgesmeer met versteende murg.
Ons is die meisies wat goed maak- ons leef met ons weeframe op die rug, ons gee aan ander hulle leë beloftes as groot blou tente terug- uit onskuldige soene knoop ons toue wat wurg.
Ons word van stapel gestuur as stapelgek, net omdat ons vreesloos in die buitenste duisternis intuur. Ons dra vure in ons oë, bestand teen heilige water, skedels van klein diertjies om die nek- ons hande is lelik, maar ons olies is duur.